SUTHERLAND
 
 
 
 
 
 
 
 

 

 

click here for English version

die PROKUREURSHUIS sutherland - kunsgalery - Karoo-kombuiskonferensies - verblyf

sutherland

Sinoniem met stilte, sterre, snerpende koue en sedert November 2005 die reuse-teleskoop, SALT (Southern African Large Telescope). Dít is die Karoodorpie, Sutherland, wat seismografies as die stilste plek in die wêreld aangedui is en met die koudste gemiddelde temperatuur in Suid-Afrika.

sutherland omgewing - kliek om te vergroot

Sutherland is ook die geboorteplek van die Louw-digterbroers. Besoekers kan by die broers se geboortehuis, die Louw Museum, meer uitvind oor NP van Wyk Louw en WEG Louw en hul letterkunde. Naas die sterrewag, sowat 16km buite Sutherland in die rigting van Fraserburg, tel die argitektuur van Sutherland ook onder die besienswaardighede. Die NG Kerk, ontwerp deur Charles Freeman wat ook verantwoordelik was vir die ontwerp van die NG Kerk in Graaff Reinet, dateer uit die vroeë 1900's.

Vir meer inligting oor die Groot Teleskoop, die Louw Museum, interessante begraafplase op die dorp, 4x4-roetes en ander dinge om te sien en doen in die Sutherland-omgewing, besoek http://www.karoohoogland.co.za/

Ons wil graag jou besoek aan Die Prokureurshuis onvergeetlik maak en daarom vestig ons graag jou aandag op die volgende spesifieke inligting.

Mediese inligting

Daar is nie ‘n apteek op Sutherland nie, maar wel ‘n dokter. In ‘n noodgeval kan jy die hospitaal by 023 571 1002 skakel.

Banke

Daar is slegs ‘n tak van Standard Bank op die dorp wat wel oor ‘n OTM beskik. Slegs enkele sakeondernemings op die dorp aanvaar kredietkaarte. Ons beveel aan dat jy genoeg kontant beskikbaar het vir algemene aankope.

Petrol en diesel

Daar is slegs een vulstasie op die dorp – letterlik om die hoek van Die Prokureurshuis. Brandstof is van Maandag tot Saterdag vanaf 08:00 tot 17:00 en op Sondae vanaf 11:30 tot 12:30 beskikbaar. Verseker asseblief vroegtydig dat daar genoeg brandstof in jou motor is aangesien ‘n betaling van R10 na-ure gevra word.

Selfoonontvangs

Sutherland bied selfoonontvangs vir al die bekende selfoon-netwerkverskaffers. Hou egter in gedagte dat daar geen selfoonontvangs tussen Matjiesfontein en Sutherland is nie. Ons beveel aan dat jy iemand in kennis stel wanneer jy by Matjiesfontein na Sutherland toe afdraai.

SALT en sterrewag

Die sterrewag is sowat 16km buite die dorp op pad na Fraserburg. Dagtoere word van Maandae tot Saterdae aangebied en die koste per persoon is R20. (Moenie verwag om gedurende die dag enige sterre deur ‘n teleskoop te sien nie!) Nagtoere word op Maandae, Woensdae, Vrydae en Saterdae aangebied en die koste per persoon is R40. Alle toere word volgens afspraak gereël. Skakel gerus vir Karel Klein by 023 571 1205 vir meer inligting en om afsprake te reël.

  kombuiskonferensies
  verblyf